https://www.diemootprojek.co.za/die-moot-se-geskiedenis/die-geskiedenis-van-die-moot

(Eer)gister, vandag en môre …

 

Die meeste mense glo dat die verlede werklik plaasgevind het. Dit is egter iets wat vir goed verby is, maar wat spore en oorblyfsels gelaat het, soos tasbare geboue en voorwerpe, maar ook nie-tasbare herinneringe, tradisies en seremonies. Regeringstelsels, politieke idees, opvoedkundige praktyke, gebruike en gewoontes is alles produkte van die verlede. En deur hierdie oorblyfsels beïnvloed die verlede die hede en ook die toekoms. So kan ons byvoorbeeld die wortels van konflik en spanning in ʼn samelewing altyd in die verlede gaan soek.

 

Dikwels is dit wat uit die verlede behoue gebly het en oorgedra word van geslag tot geslag, verweef met mites of onjuiste beskouings. Tog word selfs hierdie “valshede” ook vandag al beskou as deel van ʼn komplekse stel gebeure en idees, wat saam die verlede vorm. Die verlede kan nie regstreeks of direk verstaan of begryp word nie, omdat dit nie meer bestaan nie. Dit kan slegs benader word deur die tasbare en nie-tasbare oorblyfsels daarvan te ondersoek en bestudeer en sodoende ʼn regverdige, maar gebalanseerde bestaan toe te sê aan dit wat verby is.

 

Die Geskiedenis-kursus van die APA volg ʼn kultuurhistoriese benadering sodat studente die nodige vaardighede ontwikkel om oorblyfsels uit die verlede suksesvol te analiseer en interpreteer en tussen waarheid en mites te onderskei. Die sensitiwiteit en begrip wat ons studente ontwikkel rondom die kulturele konteks en tydsgees waarbinne hierdie bron-oorblyfsels ontstaan het, berei hulle voor om deur beroepe soos onderwys, joernalistiek, museumwese en erfenisbewaring in privaatpraktyk, die verlede ook vir ander mense bekend en verstaanbaar te maak.

Artikel deur dr Jeanette van Rensburg geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-08. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

Deel die bladsy: