24 Augustus 2023: Hugenotedag

 Die Massamoord van Bartolomeusdag deur François Dubois in die Kantonale Skone Kunstemuseum te Lausanne [1]

Wêreldwyd word op 24 Augustus, Hugenotedag gevier, maar dit is die moeite werd om eers vir ʼn oomblik stil te staan by byname en die oorsprong van die naam Hugenoot.

Van Spot tot Eerbewys

Gereformeerdes is geneig om vir hulself aanvanklik spottende byname op die hals te haal, wat later eretitels word. Die oorsprong van meeste van hierdie byname is voor die hand liggend. Dink maar aan Geuse[2] in Nederland, Puriteine[3] in Engeland, en Kovenanters[4] in Skotland en Noord-Ierland. Die herkoms van die bynaam Doppers onder ons, is effens minder seker. Die lyn word dikwels deurgetrek vanaf behoudende Gereformeerdes in die Oosgrensgebied rondom die eeuwisseling vanaf die 1700s tot 1800s, wat gesien was as plattelands (van dorpe eerder as stede, dus dorpers), en/of uitdowers (of dompers) van verloopte verligting in staat en kerk.

Een moontlikheid vir die ontstaan van die bynaam Hugenote vir Franse Gereformeerdes, is die status van die Switserse stad Genève as veilige hawe vir vlugtende Gereformeerdes, veral uit Frankryk, en die leidende rol van die Franse Gereformeerde Teoloog Calvyn, wie se bediening in Genève sy swaartepunt gehad het. ʼn Bekende vroeë politieke leier van Genève het blykbaar Hugues geheet, en die Switserse Konfederasie is in Duits as die Eedgenootskap (Eidgenossenschaf) bekend. Die woord Hugenoot sou dan moontlik ʼn samestelling en verbuiging van die twee woorde Hugues en Eidgenossen wees.

ʼn Troue in Parys

Maar waarom is 24 Augustus Hugenotedag? Dit is die jaar van onse Here 1572. Die Protestante van Frankryk is beide polities en militêr goed georganiseer, en raak toenemend invloedryk in die twee jaar sedert die 1570-Edik van Saint-Germain-en-Laye[5]. Hierdie edik bevat onder andere ʼn klousule wat toestemming bevestig van die koning se moeder vir die huwelik tussen die koning se suster, Margaretha van Valois, en die politieke leier van die Protestante, Hendrik van Navarre. Die belangrike koninklike raad sluit vanaf 1571 selfs die Protestante se militêre leier, Caspard de Coligny in, ten koste van Coligny se groot Rooms-Katolieke teenstander, die Hertog van Guise.

Uiteindelik is dit sovêr, die troudatum is gestel, 18 Augustus 1572, in Parys. Die Protestantse edelliede van heinde en verre het opgedaag vir die troue. Die Roomse troumis[6] was waargeneem deur ʼn kardinaal, en die mees hooggeplaaste Protestante het ná die troue vir ʼn aantal dae in Parys aangebly vir beraadslagings. Op 22 Augustus op weg vanaf ʼn vergadering word Coligny ernstig gewond, maar die sluipmoordpoging is onsuksesvol.

Komplot in die paleis

Die volgende aand, voer Catharina de Medici ʼn indringende gesprek met haar seun, koning Karel. Hul groot kans het gekom. Die toenemende invloed van die Protestante kon vir eens en vir altyd uit die weg geruim word. Die Protestantse leiersfigure is ʼn ope prooi hier in Parys, en móét gewoon nóú vermoor word. Die koning gee toe, die sein om met die massamoord te begin is die kerkklok wat lui tussen middernag en sonsopkoms 24 Augustus, die dag van die Roomse Bartolomeüsfees.

Moord en doodslag

Protestante word uit huise gesleep en in die strate vermoor. Die swaargewonde Coligny word van sy siekbed gesleep, wreed vermoor en sy liggaam by die venster uitgegooi. Een van sy moordenaars sou later in verwondering getuig: “Ek het nooit enigiemand minder bevrees in sulke groot gevaar, of meer standvastig in sterwe, gesien nie.”

Oral word die Roomse Parysenaars nog verder aangehits om Protestante voor die voet te vermoor. In Parys alleen word 2,000 vermoor, maar die massamoord kring uit na die res van Frankryk, en oor die volgende paar dae word geraam dat 20,000 Protestante hul lewe verloor het.

Die Pous het ʼn munt uitgegee om die bloedvergieting van 24 August 1572 te vier.[7]

Die tragedie het nie onder tydgenote elders ongesiens verbygegaan nie. Die leidende Skotse Hervormer John Knox, het homself uit sy sterfbed na ʼn kansel gebeur, om die Koning van Frankryk voor die ore van die Franse Ambassadeur te veroordeel: “Jou koning is ʼn moordenaar”[8].

Selfondersoek

Tog, moet daar ook nagedink word, nie net oor die wrede Roomses nie, maar ook daaroor dat Protestante in Parys bymekaar was vir die viering van ʼn bruilof, naamlik van hul politieke leier met ʼn Rooms-Katolieke vrou[9], dit boonop met ʼn Rooms-Katolieke seremonie, alleen maar met die verswarende doel voor oë van verkryging van politieke invloed.

Toe einste Hendrik van Navarre uiteindelik koning word, het hy die aardse kroon meer waarde geag as sy ewige saligheid, en die Roomse geloof aangeneem, terwyl hy tog ʼn mate van godsdiensvryheid bewerk het met die uitvaardiging van die Edik van Nantes. Sy eie kleinseun het selfs die beperkte godsdiensvryheid herroep in 1685 met die Edik van Fontainebleau, waarna die Franse Protestantisme grootliks uit Frankryk moes vlug, onder andere ʼn klein deel wat hulself uiteindelik aan die suidpunt van Afrika gevestig het.

Die Franse Gereformeerde Kerk het in die tydperk van betreklike vrede terwyl die Edik van Nantes van krag was (1598 tot 1685) dalk minder fisiek gely, maar het geestelik soms agteruitgegaan. Dink maar aan die voorkoms van die Amyraldisme.[10]

In teenstelling, het die klein oorblyfsel van Hugenote in Frankryk ná die herroeping van die Edik van Nantes, tot ʼn groot mate geestelik gegroei deur die afskuwelike lyding heen – sien veral die roerende bevestigingspreek van Hugenote-predikant Antoine Court, oor die noodsaak van fisieke byeenkoms van die kerk, selfs ten spyte van die onmiddellike gevaar van Roomse staatsmagte.[11]

Genade

By ons het die grootste hoeveelheid Franse Hugenote in 1688 voet aan wal gesit. Die Here het deur sy genade hul afstammelinge kragtig gebruik in die vorming van hierdie nuwe volk aan die suidpunt van Afrika. Geen groter bydrae kan ons hier noem nie, as die leidende rol wat Hugenote-afstammelinge ds. S. J. du Toit van die Paarl, en veral sy seun prof. J. D. du Toit (Totius), gespeel het in die vertaling van die Bybel in Afrikaans, waarvan ons die 90ste herdenking op 27 Augustus hierdie jaar mag vier.

[1] https://www.mcba.ch/collection/le-massacre-de-la-saint-barthelemy-vers-1572-1584/

[2] Van die Franse woord gueux, wat bedelaars beteken, van die raad van Karel van Berlaymont aan die landvoog Margaretha van Parma, by die oorhandiging van die Verbond der Edelen se versoekskrif (5 April 1566): “N’ayez pas peur, Madame, ce ne sont que des gueux” (“Moenie bang wees nie, mevrou, hulle is slegs bedelaars”).

[3] Gereformeerde in Engeland wat ʼn terugkeer (suiwering / “Purifying”) na Bybelse beginsels in veral openbare aanbidding bepleit het.

[4] Die Tweede Skotse Hervorming is sterk gekenmerk deur die vorming van Volksgeloftes (“Covenants”), waar die bynaam Kovenanters (“Covenanters”), sy oorsprong het.

[5] http://www.histoirepassion.eu/?1570-Edit-de-Saint-Germain-en-Laye-edit-de-pacification-par-Charles-IX

https://nl.wikipedia.org/wiki/Vrede_van_Saint-Germain-en-Laye

[6] Rooms-Katolieke huwelikseremonie.

[7] https://www.tudorsociety.com/11-september-1572-a-celebration-for-the-defeat-of-the-ottoman-troops-and-the-massacre-of-the-huguenots/

[8] https://www.opc.org/review.html?review_id=570

[9] 2 Kor. 6:14-18.

[10] https://www.opc.org/review.html?review_id=565

https://nl.wikipedia.org/wiki/Moses_Amyraut

[11] https://www.opc.org/cce/feature.html?feature_id=104

Deur Josef du Toit

Deel die bladsy: