In die suide van Frankryk is daar ʼn stad met die naam Oranje (in Frans: Orange, uitgespreek Orahnz). Hier het die vroeë Christelike Kerk in die sesde eeu na Christus, die Tweede Sinode van Oranje gehou, en weereens die Bybelse uitverkiesingsleer dat verlossing van sonde en sondeskuld alleen God se werk is, gehandhaaf.  Terwyl die valse leer dat saligheid deur die mens self verwerf kan word (pelagianisme) reeds voorheen verwerp is, het hierdie sinode die meer subtiele wanvoorstelling dat God en mens saamwerk in ons verwerwing van die ewige lewe (semi-pelagianisme) van die tafel gevee. In die Here se genadige voorsienigheid was dit nie die einde van God se werk met Oranje nie!

Teen die einde van die agtste eeu na Christus verklaar die Moslem Emir van Córdoba in Spanje, Hisham I, ʼn heilige oorlog teen die Christendom. Hy val aanvanklik die Koninkryk van Asturias in die noorde van Spanje en die Graafskap van Toulouse in Frankryk aan. Die Koning van die Franke en Keiser van die Weste, Karel die Grote, plaas die verdediging onder die leiding van sy neef, Willem van Gellone, die Tweede Graaf van Toulouse. By Oranje verslaan Willem die invalsmagte van Hisham, en as beloning kry hy van Keiser Karel die titel Graaf van Oranje.

Wapen van die stad Oranje / Orange in Frankryk.

 

 

 

 

 

 

 

Verskeie Middeleeuse heldedigte handel oor Willem van Gellone, en volgens een so ʼn legende is sy neus in die slag by Oranje deur ʼn Saraseense reus gebreek. So kry Willem die bynaam Markgraaf met die Korte Neus, oftewel in Frans Court Nez. Oor die jare het Court Nez in die volksmond vervorm na Cornet of jaghoring. Op die wapen van die stad Oranje[1], pryk vandag nog hierdie Cornet d’Orange.

In die twaalfde eeu word Bertrand I die Graaf van Oranje, voor die graafskap verhef word tot ʼn Vorstedom (ʼn streek met ‘n regerende prins, of vors, as hoof), en só kom die titel Prins van Oranje in wording. Bertrand

was veral lief om sy jaghoring op die slagveld te gebruik. Na hom gebruik al die Prinse van Oranje die jaghoring as familie-skild – ook steeds na die Duitse Graafskap van Nassau verenig met die Prinsdom van Oranje om die Vorstehuis van Nederland te word. Die Koninklike Standaard (of Koninklike Vlag) van Nederland[2] het benewens die Christelike kruis in Nassau-blou, ‘n Jaghoring van Oranje in elkeen van die vlag se vier kwartiere.

Koninklike Standaard / Koninklike Vlag van Nederland
Wapen van die Oranje-Vrystaat

 

Na die stigting van die Oranje-Vrystaat is die Jaghoring van Oranje deur Koning Willem III van Nederland aan die Boere-republiek toegeken, waar dit ʼn ere-plek op die drie uithoeke van die Volkswapen[3] beklee het. Ongeveer 80 jaar later in die 1930s het dr D F Malan se Gesuiwerde Nasionale Party dit as embleem oorgeneem onder die verinheemsde benaming kruithoring. Die kruithoring het daarna bewaar gebly by die Herenigde Nasionale Party, Nasionale Party (tot 1993), Herstigte Nasionale Party en Afrikaner Volksparty.

Alhoewel die naam kruithoring, die ouer idee van musikale instrument uitsluit, het die afbeelding daarvan dikwels die duidelike vorm van ʼn blaasinstrument, jaghoring of kornet behou. Selfs in die militêre en geregtelike amp Veldkornet kan die basis van organiserende boodskapper steeds van die ramshoring-motief (kornet: klein horing) afgelei word. Onwillekeurig dink mens aan die blaas op die horings by die val van die mure van Jerigo[4]. Josua 6:20: Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk ʼn groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.

Ramshoring / Shofar in Yad Vashem, Jerusalem

 

 

 

 

 

 

 

 

Daarby het die Nederlandse Koning Willem III van Oranje op versoek van die Oranje-Vrystaatse regering, die Vrystaatse Vierkleur aan die volk toegeken, met sy kenmerkende drie oranje bane, deels met verwysing na die Oranjerivier. Sommige meen selfs dat die algemene ontwerp beïnvloed was deur die vlag van die Verenigde State van Amerika, wat in hierdie tyd ʼn rol by ander nuwer vlae soos dié van Griekeland gespeel het.

(Ook die Oranjerivier is na die Nederlandse Vorstehuis vernoem, deur die Nederlandse ontdekkingsreisiger van Skotse afkoms, kol. Robert Jacob Gordon.)

Maar die einde van ons verhaal oor Oranje is dit nog nie! Op 1 April 1572 verower die Nederlandse Watergeuse die koninklike Spaanse garnisoen by Den Briel (of Brielle), en eis die stad op vir Willem die Swygeraar, Prins van Oranje, Graaf van Nassau. Die slag bly een van die bekendste gebeurtenisse in die Tagtigjarige Oorlog, en daarmee saam in die geskiedenis van die Protestantse geloof, van Nederland en van ons eie volk. Dit is by die inname van Den Briel waar die Prinsevlag vir die eerste keer vermeld word: vendelen orangien, wit en blaauw. Daarna word die Oranje-blanje-blou meer en meer dié simbool van die opstand teen Rooms-Katolieke Spaanse onderdrukking van die Protestantisme in Nederland. Soos die ruisende negentiende eeuse lied oor die slag vertel, was die uitroep: In die naam van Oranje, maak oop die poort!

De Noord-Nieuwland in Tafelbaai, 1762, in die William Fehrversameling by die Kasteel die Goeie Hoop

 

 

 

 

 

 

 

Die Prinsevlag het bestaan uit drie horisontale bane oranje, wit en ligblou, die heraldiese kleure van die Nederlandse Vorstehuis Oranje-Nassau. Dit was tegelyk die eerste volksvlag, en later die inspirasie vir menige ander volke se vlae. By ons eie volksplanting op 6 April 1652 was dit die Oranje-blanje-blou wat aan die mas wapper van Jan van Riebeeck se flottielje: Reijger, Drommedaris en Goede Hoop. (Kyk as voorbeeld ʼn anonieme agtiende eeuse skilder se uitbeelding van die Nederlandse skip Noord-Nieuwland in Tafelbaai[5].)

Vir deels praktiese sigbaarheidsoorwegings op see, en deels invloed uit die Franse Rewolusie, is die Oranje-Wit-Ligblou Prinsevlag geleidelik vervang met Rooi-Wit-Donkerblou in Nederland. Dit verklaar miskien tot ʼn mate die donkerblou weergawe van die Prinsevlag in die Suid-Afrikaanse nasionale vlag van 1928 tot 1994, met byvoeging van ʼn kruisvormige samestelling van die vlae van die Boere-republieke en Brittanje in die middel (waarna dr D F Malan verwys het as ʼn rofie wat mettertyd sou afval).

Maar kan vlag en wapen ook selfs diepere toepassing in u lewe vind? Wat is die bevindelike betekenis daarvan? Jesaja 18:3 lees: “Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as ʼn banier opgehef word op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister!” Matthew Henry verduidelik: “Hierdeur verkondig Hy oorlog teen die vyande van sy kerk, en roep al die kerk se vriende en goedgesindes op tot die kerk se diens. Hy gee kennis dat Hy op die punt staan om ʼn groot werk te doen, as HERE van die leërskare. Die hele wêreld word genooi om daarvan kennis te neem; al die bewoners van die aarde moet die vaandel sien en die basuin hoor, moet die bewegings van die goddelike voorsienigheid waarneem en die aanwysings van die goddelike wil volg. Laat almal toetree onder God se vaandel, en aan sy kant wees, en luister na die basuin van sy Woord, wat geen onhelder geluid laat klink nie.”

Ter afsluiting, grepe uit Eitemal se Oranje-blanje-blou:

Dis die tyd, dis die dag, om te handhaaf en te bou. Hoog die hart, hoog die vlag, hoog Oranje-blanje-blou! … Die God van onse vaders het ons hierheen gelei, ons dien sy grootse skeppingsplan, solank ons Boere bly. Ons buig ons hoof voor Hom alleen; en as Hy ons verhoor, omgord ons bly die lendene: Die toekoms wink daar voor.

[1] https://www.ville-orange.fr/

[2] https://www.koninklijkhuis.nl/onderwerpen/vlaggen-en-vlaginstructie/koninklijke-standaard

[3] https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA10162275_162

[4] https://www.yadvashem.org/he/education/educational-materials/artifacts/shofar.html

[5] https://documents-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=1504898

Deur Josef du Toit

Deel die bladsy: