Prof. Koos Adendorff het op 27 Maart 1953 die eerste lewenslig gesien in Hoedspruit in die Laeveld. Nadat hy sy skoolloopbaan in Warmbad en Delmas voltooi het, verwerf hy die grade B.A. en B.D. asook die Nagraadse Diploma in Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Op 1 Februarie 1981 word hy met handoplegging bevestig in die NG Kerk Arlington in die Vrystaat. In 1984 aanvaar hy die beroep na die NG Kerk Elspark aan die Oosrand.

Vanaf sy eerste treë in die bediening was prediking en die toerusting van lidmate vir hom baie belangrik. Hy voltooi sy meesters- en doktorsgrade in teologie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat met die klem op die toerusting van verbondsouers met die oog op hulle verbondsonderrigtaak. Dwarsdeur sy bediening was bestudering van die Ou Testament hom ook na aan die hart. Dit is veral die Christusprediking uit die Ou Testament wat sy aandag getrek het. Mettertyd het hy hom in die ontwikkelende vakgebied van Bybelse Teologie oftewel die geskiedenis van God se openbaring soos dit in die Skrif neerslag gevind het, ingegrawe. Bybelse Teologie gee die ware verhaal van God se ontvouende verlossingsplan weer – ‘n verlossingsverhaal wat in die paradys begin het, in die Ou Testament verder ontvou is, met die koms en werk van Christus die hoogtepunt beleef het en uiteindelik met Sý wederkoms die voltooiing sal vind.

In 2003 word hy toegelaat tot die bediening in die AP kerkverband met die AP Kerk Germiston as eerste standplaas. Hy volg ‘n beroep na die AP Akademie in 2005 op en begin in Julie van daardie jaar sy werksaamhede as professor in die Departement Diakioniologie. Ná die skielike afsterwe van prof. dr. HCG Robbertze aan die einde van 2007 verander die Raad van die Akademie sy leeropdrag na Ou Testamentiese vakke en word prof. Johan Bosman in sy plek as dosent in diakoniologiese vakke beroep. In 2009 volg hy prof. Frans van Staden op as rektor van die AP Akademie.

Prof. Adendorff lê hom daarop toe om ‘n Bybels-teologiese benadering in die AP Akademie te vestig. Sy mentors in dié verband is o.a. prof. Geerhardus Vos, wat as die vader van die gereformeerde Bybelse Teologie bekend staan, asook Sydney Greidanus, Graeme Goldsworthy, Gregory Beale, Don Carson en Willem VanGemeren. Ouer teoloë soos Klaas Schilder en Bennie Holwerda het ook belangrike bydraes gelewer om hom tot dié heilshistoriese benadering te verbind.

Die toerusting van lidmate om die Bybel in sy heilshistoriese verband te bestudeer, is vir prof. Adendorff ‘n prioriteit. Gevolglik is hy by toerustingskursusse in gemeentes betrokke en besig om kursusmateriaal vir gebruik in die kerk te ontwikkel. Hy dien ook op die redakteurspan wat verantwoordelikheid aanvaar het om die kantaantekeninge by die Statevertaling vir Afrikaanse lesers te vertaal en in ‘n handige formaat beskikbaar te stel.

Prof. Adendorff is oortuig dat ‘n grondige teologiese opleiding wat rigtinggewend vir die toekoms moet wees, sy oë eerstens na die verlede moet wend. ‘n Deeglike bestudering van die klassieke katolieke (of algemene) teologie, gepaard met ‘n noukeurige navorsing oor die klassieke gereformeerde teologie, is fondamentleggend. Anders gestel: Sentraal in die teologiese studie moet die Bybel as die geïnspireerde, onfeilbare, gesagvolle, noodsaaklike en genoegsame openbaring van God staan. Die teologiese besinning oor die Woord (m.a.w. die interpretasie en toepassing daarvan) deur die vroeë kerk, die Bybelgetroue teoloë van die Middeleeue en die gereformeerde vaders, moet vir die hedendaagse teoloog koersgewend wees. Die AP Akademie staan daarom onbeskaamd in ‘n bepaalde tradisie – die klassieke gereformeerde tradisie. Wie hierdie tradisie as vertrekpunt neem en met die toepassing daarvan in die huidige tydsgewrig worstel, sal nie soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring (nie); maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles … opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus (Efés. 4:14-15). So word studente wat aan die AP Akademie studeer, koersvaste mense in ‘n koerslose tyd.

Deel die bladsy: