Die Bybelboek Openbaring word dikwels as onverstaanbaar beskryf, maar met sy boek Openbaring: Die boek van die voleinding wil Professor Koos Adendorff lesers laat sien

Openbaring is ten diepste ’n troosboek vir die kerk.

Prof. Koos Adendorff is tans hoof van die Departement Ou Testament aan die Afrikaanse Protestantse Akademie. Hy is ook die skrywer van Genesis: Die boek van oorspronge, en word saam met sy nuutste boek oor Openbaring gesien as die twee boeke wat die ander Bybelboeke omsluit en die openbaringsgeskiedenis begin en afsluit.

Prof. Adendorff glo meeste lesers sal baat vind met die gebruik van ’n hulpmiddel by die lees van Openbaring.

Hy voeg ook by: “Dit help as ons die genre van die boek verstaan. Openbaring is ’n literatuursoort wat ons ‘apokaliptiese literatuur’ noem. Dit is ’n genre waarin ’n openbaring deur middel van ’n bonatuurlike bemiddelaar (in hierdie geval Jesus Christus) aan ’n menslike ontvanger (in hierdie geval Johannes) meegedeel word. Die openbaring wys op ’n transendente werklikheid (’n wêreld buite hierdie wêreld) vanwaar ’n toekomstige (eindtyd) verlossing vir die gelowiges uit die huidige bose wêreld sal kom,” vertel prof. Adendorff.

“In die oordra van die boodskap speel simboliek ’n belangrike rol. Kleure, getalle, beelde ensovoorts moet simbolies verstaan word. Die boodskap is gewoonlik in ’n verhaalvorm en bevat visioene en openbarings. Verder moet lesers ook onthou dat die Ou Testament as agtergrond van die boek Openbaring dien. Daar is talle verwysings na en sinspelings op Ou Testamentiese gebeure, beelde en persone in Openbaring. Wie dus die Ou Testament en sy boodskap goed ken, sal baie van die visioene in Openbaring verstaanbaar vind.

“Openbaring is ten diepste ’n troosboek vir die kerk. Die kerk leef in die spanningsveld tussen Christus se eerste en tweede koms.”

Hierdie tydperk, wat ook die laaste dae genoem word, word deur die volgende aspekte gekenmerk:

  • Die triomferende Christus is soewerein by sy kerk en in die wêreld teenwoordig.
  • Die Bose stry verwoed teen Christus en sy kerk.
  • Die Bose gebruik die Antichris en vals profeet in sy stryd.
  • Die bose driemanskap verlei die grootste deel van die mensdom.
  • Hierdie stryd hou vir die gelowiges martelaarskap in.
  • Gelowiges moet (en kan) volhard, want Christus het (en sal) oorwin.

“Die troos vir die kerk is dat die Bose aan die kruis beslissend verslaan is en dat sy lot dus verseël is. Die opgestane Christus is die Heer van die eindtyd, wat God se onwankelbare plan vir die geskiedenis onkeerbaar laat ontvou. Hoewel die kerk nou swaar kry en ly as gevolg van die Bose se aanslae, is die finale oordeel oor die Bose en dus ook die finale en volkome verlossing van die gelowiges op pad. ’n Ewigheid van salige gemeenskap met God wag vir die gelowiges in die nuwe Jerusalem met sy pêrelpoorte, goue strate en lewegewende rivier.”

As deel van sy predikantsverpligtinge in die AP Kerk Pretoria-Oos het hy ’n Bybeltoerustingprogram oor die boek Openbaring aangebied en dit is hier waar die grondslag vir sy boek gelê is.

“Ek het toe besluit om my Bybelstudie-notas op skrif te stel en dit so deeglik te doen dat ek dit as ’n manuskrip vir moontlike publikasie kan aanbied. My voorneme het toe daartoe gelei dat die aanvanklike notas omvattend uitgebrei is tot ’n vers-vir-vers verklaring van die boek. In die proses het ek van die nuutste navorsing oor die boek Openbaring ter sprake gebring. Daar is tans baie goeie werke oor Openbaring, maar hulle is teologies in tegniese taal geskryf en merendeels in Engels. Dié werke is dus nie so toeganklik vir lidmate nie. Ek wil die werk graag aanbied as ’n hulpmiddel vir lesers van die moeilike, maar troosvolle boek Openbaring.”

Prof. Adendorff voeg by dat dié boek as opvolg van sy vorige boek Genesis: Die boek van oorspronge gesien kan word.

“Genesis begin met die skepping en Openbaring eindig met die herskepping. Die twee boeke omraam die ander Bybelboeke en funksioneer soos boekstutte wat die res van die Bybelboeke insluit. Die ander Bybelboeke beskryf die voortgang van die mensdom se geskiedenis vanaf skepping tot herskepping. Albei boeke werp dus hul lig op ons aardse bestaan. Genesis herinner ons waar ons vandaan kom, hoekom ons bestaan en waarom ons bestaan vol lyding en swaarkry is. Openbaring wys ons waarheen ons op pad is, ’n ewige lewe in die salige teenwoordigheid van God. In die sentrum van die mens se geskiedenis, en as hoogtepunt daarvan, staan die kruis van Christus. Hy het in ons plek die straf vir ons sonde gedra en só die toekoms saam met God op die nuwe aarde ontsluit.”

 Openbaring: Die boek van die voleinding is onlangs deur Lig in Duisternis Uitgewers uitgegee.

 

Deel die bladsy: