’n Nuwe kwalifikasie, die BSocSc (Bachelor in Social Sciences), is pas ten volle deur die Raad op Hoër Onderwys (CHE) vir die AP Akademie geakkrediteer. Met die akkreditasie van hierdie kwalifikasie word daar nuwe moontlikhede in die sosiale wetenskappe vir studente geskep.

Die AP Akademie (APA) is ’n gevestigde instelling wat oor jare verskillende rigtings in die sosiale wetenskappe ontwikkel het. Die instelling kan inderdaad as toonaangewend ten opsigte van die sosiale wetenskappe bestempel word. Afgesien van ’n BA-graad wat op afstandsonderrrig die deur vir verskeie rigtings soos die tale, sielkunde, kommunikasiekunde, bemarking en nog meer open, bied die APA ’n besondere geleentheid vir die onderwys. Die APA bied inderdaad die geleentheid om van die skoolbank tot voor in die klas te vorder. Deur eers ’n BA te doen en daarna die NGOS, lei die APA die afgelope paar jaar reeds honderde onderwysers as vakspesialiste op. Die BSocSc bied verdere geleenthede in dié opsig. Daarbenewens bied die APA ook ‘n geakkrediteerde BDiv-graad aan. Die BDiv is ’n teologiese kwalifikasie op Bybels-gereformeerde grondslag wat toenemend uniek en eiesoortig in Suid-Afrika is.

Die APA sprei die vlerke. Die BSocSc is ’n kwalifikasie wat deur kontak verwerf kan word, maar dit is nou prakties moontlik om ook van die BA na die BSocSc te migreer en dan die BSocSc te verwerf indien studente dit so wil doen. Die kombinasie en insluiting van Ekonomie, Filosofie en Politiek in die BSocSc open verdere deure vir studente. Die APA het ook aansoek gedoen vir ’n honneursgraad in Sielkunde. Verder is nog opwindende moontlikhede reeds in die pyplyn soos ’n Hoër Sertifikaat in Sosiale Studies, asook meer as een landbou-rigting.

Die APA beplan om so spoedig moontlik alles in plek te kry om in 2023 met die BSocSc te begin. Navrae kan by die APA gedoen word by 012 344 3960 of info@apa.ac.za.

 

Deel die bladsy: