Vanjaar vier die APA sy vyf-en-dertigste bestaansjaar! In sekere opsigte is hierdie jaar vir die APA te midde van die feestelikheid ook ’n herinnering aan die verganklikheid van die mens en die ewigheid van God en Sy werk, veral omdat ons drie besondere mylpale herdenk in 2023.

Die APA se eerste rektor, prof. FAH van Staden, het ’n paar dae gelede 96 jaar oud geword. Van die APA se kant wil ons hom hartlik gelukwens en bid prof. Van Staden die seën van die Here toe op die nuwe lewensjaar!

Die APA se tweede rektor, prof. JAE Adendorff emeriteer aan die einde van Maart en dan sluit hy ’n bediening van die meer as 40 jaar op ’n hoë noot af. Prof. Koos, die APA wil vir u dankie sê vir jare van onbaatsugtige diens in die koninkryk van die Here en bid u baie jare se genade en gesondheid toe in die nuwe lewensfase wat u betree. Ons is ook dankbaar dat u bereid is om op kontrakbasis nog by die APA diens te doen en u huidige studente deur te sien.

Die derde mylpaal hierdie jaar is dat ekself, die derde rektor van die instelling, aan die einde van Oktober my eerste termyn as rektor voltooi. Ek kyk terug na die afgelope vyf jaar as rektor en kan nie glo dat die tyd so vlieg nie. Ek is dankbaar vir elke personeellid en student wat my tydens my termyn as rektor ondersteun en bemoedig het.

Met hierdie drie mylpale in die vyf-en-dertigste jaar van die APA, word ons maar net opnuut bewus dat ons “vyf-voet wurms” is. Dit is hoe die kerkhervormer, Johannes Calvyn, na aanleiding van Psalm 22:7 na die mens verwys het wanneer ons verganklikheid en tydelike werk gemeet word teen die ewigheid van God en Sy onverganklike werk. Daar staan: “Maar ek is ’n wurm en geen man nie…”.

Ons word tesame ook herinner dat ons besig is om ’n instelling te bou vir opkomende geslagte wat nie op mense gebaseer moet word nie, want mense kom en gaan – maar op God. Hy bly dieselfde van geslag-tot-geslag en dit is deur sy beskikking dat die APA reeds vyf-en-dertig jaar van genade kon beleef.

Soos ons ‘n nuwe jaar binnestap, is dit ‘n tyd vir besinning, vernuwing en die stel van nuwe doelwitte. Die afgelope jaar was dalk gevul met uitdagings en struikelblokke, maar dit is belangrik om te onthou dat ons deur God se genade sterk en veerkragtig is. Elke nuwe dag is ‘n geleentheid om vars te begin en positiewe veranderinge in ons lewens te maak.

Kom ons laat die negatiewe gedagtes en spyt van die verlede agter en fokus op die hede. Die toekoms is onbekend en onvoorspelbaar, maar met harde werk, vasberadenheid en ‘n positiewe gesindheid kan ons ons drome en ideale bereik.
Kom ons maak ‘n verbintenis om elke dag die beste weergawe van onsself te wees. Kom ons streef daarna om vriendeliker en meer deernisvol te wees. Kom ons neem die tyd om die mense in ons lewens en die eenvoudige dinge wat ons vreugde bring te waardeer.

Kom ons maak hierdie jaar ‘n jaar van groei, ‘n jaar van avontuur, ‘n jaar van liefde en ‘n jaar van ontdekking. Kom ons omhels die nuwe jaar met ope arms, gereed om dit die beste een nog te maak. Laat ons saamwerk om ‘n beter toekoms vir onsself en ons gemeenskap te skep.

Vir ons studente – glo in jouself en jou doelwitte en vertrou op God dat Hy jou die genade sal skenk om jou doelwitte te bereik. Jaag jou drome na, al is die reis soms moeilik en onbekend. Die wêreld wag dat jy jou merk moet maak.

‘n Geseënde jaar word vir u elkeen toegebid!

Photo by Kier… in Sight on Unsplash

Deel die bladsy: