Om jou BA-graad aan die Afrikaanse Protestantse Akademie te verwerf, is net die eerste stap in die rigting van ’n reeks opwindende loopbaankeuses.

Oud-student van die AP Akademie André van Dyk het verlede jaar sy BA-graad, met ’n groot fokus op tale, verwerf. Hy is tans besig met verdere studies aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy Honneurs in Engelse literatuur doen.

“Die BA-graad is ’n handige en diverse graad. Bo en behalwe rigtings in die onderwys en teologie is daar ook geleenthede vir die studente om nagraads verder aan ’n ander tersiêre instelling te studeer. Dan gaan deure in die sielkunde,  akademie en joernalistiek vir jou oop,” sê Van Dyk.

Volgens Van Dyk het hy besluit om sy BA-graad aan die APA te verwerf omdat hy graag iets nuuts, kleiner en meer individueel wou ervaar.

“Studentwees is reeds baie spanningsvol en dit is veral aangenaam om by ’n instansie te studeer wat mens soos deel van die familie laat voel. Geen navraag was te veel moeite vir administratiewe personeel of my dosente nie. Alle korrespondensie het glad verloop.”

Hy vind dit ook nie moeilik om die APA vir voornemende studente aan te beveel nie.

“Die APA is studentevriendelik, hartlik en toeganklik. Die mens agter die studentenommer gaan nie verlore nie. Die gehalte van die vakke, asook die variasies en kombinasie beskikbaar is baie interessant.”

Die APA is ’n privaat tersiêre instelling wat in die laat tagtigerjare as ’n skool vir teologiese opleiding gestig is. Vandaar het die APA tot ’n volwaardige selfstandige tersiêre instellinge ontwikkel, wat spesialiseer in die geesteswetenskappe. Met ’n Christelike akademiese benadering wil die APA studente begelei om kritiese idees te verken en te beredeneer. Die geesteswetenskappe ontwikkel en bevorder kritiese en analitiese denke en dit open deure tot meningsvormende beroepe soos sielkundiges, beraders, onderwysers, predikante, joernaliste, taalkundiges, gemeenskapswerkers, menslike hulpbronne en diplomatieke dienste. 

Hierdie graad dien egter ook ’n baie wyer doel. Die wye verskeidenheid vakgebiede dien talle vakdissiplines wat op besondere wyse kennis, vaardighede en toegepaste vaardighede ten opsigte van meningsvorming met, visie op die groter prentjie van ’n spesifieke Christelike lewensbeskouing in die beroeps- en lewenswêreld gee. By die APA word studente in hierdie belangrike velde spesifiek begelei om as Christene hul lewe voor die aangesig van God krities te deurdink. Daarom is daar ook verpligte modules en studente het ’n keuse tussen Filosofie of Bybelkunde. Die verpligte module, Gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing, rus studente toe om hul studies welbewus as Christene te benader.

Die doel is om studente in staat te stel om in elke vakgebied berekend kennis te neem van die grondslae en beste bydraes wat al gemaak is. Hulle word op hierdie wyse begelei om self die grondslae en bydraes effektief te integreer, en uiteindelik op die skouers van hulle wat ons voorgegaan het, skeppend te dink oor toepassings van die vakgebiede binne nuwe kontekste.

Vir meer besonderhede soos toelatingsvereistes, kursusuiteensetting en vakke wat aangebied word vir die BA graad-kursus, besoek https://www.apa.ac.za/ba/

Skakel om aansoek te doen: https://www.apa.ac.za/doen-aansoek/

Of tree in verbinding met die BA-Program administrasie by: saartjie.olckers@apa.ac.za

Nota: Die BA-graad duur drie jaar voltyds en ’n maksimum van vyf jaar deeltyds.

Deel die bladsy: