https://theimaginativeconservative.org/2023/01/conservatives-sociology-complex-dilemma-j-edward-britton.html

Wat is Sosiologie?

 

Sosiologie is ʼn vakgebied wat op ʼn unieke en verhelderende wyse die sosiale wêreld waarin ons leef en wat ons lewens vorm, vertolk. Sosiologie kyk verby die vanselfsprekende beskouings van die sosiale werklikheid. Deur ʼn analitiese benadering, sosiale teorieë en navorsingsmetodes is sosiologie in staat om ʼn dieper insig van die sosiale lewe te verskaf. Dit help ons om die menslike sosiale verhoudings en instellings, wat ons menslike bestaan vorm, beter te begryp. Sosiologie se doel is dus om te verstaan hoe menslike optrede en denke gevorm word deur sosiale verskynsels.

 

Die bestudering van sosiale verhoudings en instellings maak van sosiologie ʼn wydlopende wetenskap. Dit gee aandag aan uiteenlopend sosiale verskynsels. Dit kan wissel van misdaad tot godsdiens, van die gesin tot die staat, die verdelings van ras en sosiale klas tot die gedeelde oortuigings van ‘n gemeenskaplike kultuur, en van sosiale stabiliteit tot radikale verandering in samelewings.

 

Sosiologie is dus ‘n opwindende, verhelderende en wydlopende studieveld. Dit strek oor mense se persoonlike lewens, gemeenskappe en die globale wêreld. Op persoonlike vlak ondersoek sosiologie die sosiale oorsake en gevolge van dinge soos romantiese liefde, rasse- en geslagsidentiteit, gesinskonflik, afwykende gedrag en godsdienstige geloof. Op die samelewingsvlak ondersoek en verduidelik sosiologie sake soos misdaad en reg, armoede en rykdom, vooroordeel en diskriminasie, onderwys, stedelike gemeenskappe en sosiale bewegings. Op wêreldvlak bestudeer sosiologie verskynsels soos bevolkingsgroei en migrasie, oorlog en vrede en ekonomiese ontwikkeling.

 

As ʼn wetenskap beklemtoon Sosiologie die noukeurige insameling en ontleding van inligting oor die sosiale lewe. Hierdie navorsingsmetodes wat sosioloë gebruik, is uiteenlopend. Sosioloë neem die alledaagse lewe van groepe waar, doen grootskaalse opnames, interpreteer historiese dokumente, analiseer sensusdata, bestudeer sosiale media interaksies en voer onderhoude met mense. Die navorsingsmetodes en -teorieë van sosiologie lewer insiggewende kennis in die sosiale prosesse wat menslike lewens vorm en sosiale probleme in die hedendaagse wêreld. Die vermoë om hierdie verband tussen breë sosiale kragte en persoonlike ervarings te sien en te verstaan – wat C. Wright Mills “die sosiologiese verbeelding” genoem het – is uiters waardevolle akademiese voorbereiding om effektiewe en lonende persoonlike en professionele lewens in ‘n veranderende en komplekse samelewing te leef.

 

Studente met kennis van sosiologie weet hoe om krities oor die menslike sosiale lewe te dink, en hoe om belangrike navorsingsvrae te vra. Hulle leer hoe om helder en kreatief te dink, te evalueer en te kommunikeer. Dit is van waarde in ‘n wye verskeidenheid beroepsrigtings.

Artikel deur prof Johan Zaaiman geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-08. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

Deel die bladsy: