Gereformeerde Kerke en Volke
Twee volke wat tydens die Reformasie reeds bestaan het, het veral oorweldigend Gereformeerd geword met ’n kenmerkende kultuur-deurweking daarby. Dit is die volke van Nederland en Skotland. Weliswaar was daar op die onderskeie hoogtepunte van Reformasie in dié twee lande, steeds ʼn klein blywende Rooms-Katolieke deel van die samelewing.
Twee volke wat egter uit Nederland en Skotland, ná die Reformasie, tot stand gekom het, was tot so ʼn mate uit die Reformasie gebore, dat dié volke se volksbestaan deur sommige selfs direk verbind word met die Gereformeerde geloof: die Ulster-Skotte (oftewel Skots-Iere) van Noord-Ierland, en die Boere-Afrikaners van Suidelike Afrika.
In al vier genoemde volke het dit in die tussentyd werklik laaggety geword in sake Bybelse Gereformeerde invloed. Ten spyte hiervan, bly vergelykende studies tussen hierdie vier volke van waarde. Een so ʼn studie is die vermenigvuldiging van Kerkverbande van Gereformeerde oorsprong wat uit hierdie kulture tot stand gekom het. Dit blyk hoe meer onbybels ʼn eens Gereformeerde volk ontwikkel, hoe meer is daar ʼn neiging tot die afstigting van nuwe Kerkverbande wat by die Woord van die Here wil bly. Natuurlik is sommige afstigtings ook ʼn poging om bestaande Bybelse beginsels omver te gooi. Daarby is dit opmerklik dat latere afstigtings byna nooit by vroeëre afstigtings aansluit nie, maar eerder verkies om weer van voor af tot Kerkverbandstigting oor te gaan, gewoonlik op grond van wat lyk asof dit soms oorbrugbare verskille kan wees.
Die Gereformeerde Kerkverbande se telling vir die Ulster-Skotte staan op vyf[1], vir die Skotte op sewe[2], vir die Nederlanders is die getal tans tien[3], en op die oomblik is daar onder Boere-Afrikaners nie minder nie as nege.[4]
Die troos bly natuurlik dat buite die Kerkverbandelike strukture om, en deur die Kerkverbandelike strukture heen, daar altyd eenheid in waarheid van die kinders van die Here sal wees, want hiervoor het Christus in Johannes 17 gebid, en dit is seker dat die Vader dit ook aan sy Seun geskenk het. Maar waar laat dit ons?
Ons behoort sekerlik met ywer vir volk en Kerk te bid, sonder ophou, en soos die bannelinge van Israel in Babel in Psalm 137: 5-6 gebid het: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.”
’n Verder besondere voorbeeld is Daniël se gebed vir volk en Kerk: Daniël 9:8, 17-19: “Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het… Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat te wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.”
[1] Presbiteriaanse Kerk in Ierland, Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk van Ierland, Nie-onderskrywende Presbiteriaanse Kerk van Ierland, Evangeliese Presbiteriaanse Kerk, Vrye Presbiteriaanse Kerk van Ulster.
[2] Kerk van Skotland, Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk van Skotland, Vrye Kerk van Skotland, Vrye Presbiteriaanse Kerk van Skotland, Verenigde Vrye Kerk van Skotland, Geassosieerd Presbiteriaanse Kerke, Vrye Kerk van Skotland (Voortgaande).
[3] Protestantse Kerk in Nederland, Christelike Gereformeerde Kerke in Nederland, Gereformeerde Gemeentes, Oud Gereformeerde Gemeentes in Nederland, Gereformeerde Gemeentes in Nederland, Voortgesette Gereformeerde Kerke in Nederland, Hersteld Hervormde Kerk, Die Gereformeerde Kerke in Nederland (Hersteld), Gereformeerde Kerke Nederland, Nederlandse Gereformeerde Kerke.
[4] Nederduitse Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Christelike Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Afrikaanse Protestantse Kerk, Geloofsbond van Hervormde Gemeentes, Gereformeerde Kerke in Namibië.
Deur Josef du Toit