Behalwe Tevrede[i]

Orals waar ‘te’ bykom, is ‘te veel’, behalwe ‘tevrede’” vertel ouers hul kinders. By ‘tevrede’ kan sekerlik ook nog voorbeelde van ʼn goeie ‘te’ bygevoeg word, soos ‘te ete’ en ‘te wete’, maar oor “tevrede” (vergenoegdheid) leer die Bybel in 1 Timótheüs 6:6: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins”.

Die 9 groot stene uit die Cullinan Diamant gesny, die grootste juweel-kwaliteit rowwe diamant wat ooit ontdek is. https://archive.org/details/TheCullinan/page/n23/mode/2up

Die Skaars Juweel

Die Puritein Jeremiah Burroughs skryf in sy boek, Die Skaars Juweel van Christelike Vergenoegdheid (1648)[1]: “Christelike vergenoegdheid is daardie soet, innerlike, stil, genadige geestestoestand, wat hom vrylik onderwerp aan en verlustig in God se wyse en vaderlike beskikking in elke omstandigheid.” Burroughs waarsku dat “die duiwel lief is om in onstuimige waters [van onvergenoegdheid] vis te vang”.

Die Puritein vermaan: “Dit is maar een kant van ʼn Christen om te poog om te doen wat God behaag; u moet ook poog om tevrede te wees met wat God doen.”

Jeremiah Burroughs https://banneroftruth.org/uk/about/banner-authors/jeremiah-burroughs/

Rondgeslinger, maar nie gesink nie

Om tevrede te wees, is om te berus in God se wil, op Hom te vertrou, dat Hy alles bestuur, en ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, wat na sy voorneme geroep is (Rom. 8:28). Vir hierdie rede kan slegs ʼn Christen die Paryse leuse in waarheid huldig, Fluctuat nec Mergitur, rondgeslinger maar nie gesink nie. Dit herinner aan 2 Korintiërs 4: 7-9: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Wapenskild van Parys https://www.lawlessfrench.com/expressions/fluctuat-nec-mergitur/

Goedheid en guns

Die leidende Skotse Kovenanter martelaar, Richard Cameron[2], se afgekapte hoof en hande is na sy gevange vader in ʼn Edinburgh-tronk geneem, wat met die sien daarvan rustig geantwoord het: “Dit is my seun s’n, my eie liewe seun s’n; dit is die Here [se wil]: goed is die wil van die Here, wat my, en dié wat myne is, nie kan verontreg nie, maar goedheid en guns ons al ons dae laat volg.” Vader Cameron het hierin Job se vrome voorbeeld gevolg: “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21b).

Richard Cameron https://reformationhistory.org/richardcameron.html

Stuur vir my wat U wil

Daardie prins van predikers, Spurgeon verduidelik:

“Oor sommige punte is ʼn gelowige absoluut seker. Hy weet byvoorbeeld dat God in die agterboeg van die vaartuig sit wanneer dit die meeste slinger. Hy glo dat ʼn onsigbare hand altyd op die wêreld se roer is, en dat waar die voorsienigheid ook al mag dryf, die HERE dit stuur. Daardie gerusstellende kennis berei hom vir alles voor. Hy kyk oor die woedende waters en sien hoe die gees van Jesus die golwe trap, en hy hoor ʼn stem wat sê: ‘Dit is Ek, moenie bang wees nie.’ Hy weet ook dat God altyd wys is, en omdat hy dit weet, is hy vol vertroue dat daar geen ongelukke, geen foute kan wees nie; dat niks kan gebeur wat nie behoort te ontstaan nie. Hy kan sê: ‘As ek alles verloor wat ek het, is dit beter dat ek verloor as wat ek het, as God so wil: die ergste rampspoed is die wysste en die goedhartigste ding wat my kan tref as God dit bepaal.’ Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet. Die Christen hou dit nie bloot as ʼn teorie nie, maar hy weet dit as ʼn feit. Alles het tot dusver ten goede gewerk; die giftige middels gemeng in gepaste verhoudings het die genesing bewerk; die skerp snye van die chirurgie-mes het die trotse vlees skoongemaak en die genesing vergemaklik. Elke gebeurtenis het tot dusver die mees goddelik geseënde resultate gelewer; en so, deur te glo dat God alles regeer, dat Hy wys regeer, dat Hy die goeie uit die kwaad bring, is die gelowige se hart verseker, en word hy in staat gestel om elke beproewing soos dit kom, rustig te trotseer. Die gelowige kan in die gees van ware berusting bid: ‘Stuur vir my wat U wil, my God, solank dit van U af kom; daar het nooit ʼn slegte deel van U tafel tot enige van U kinders gekom nie”[3].

Charles Haddon Spurgeon https://banneroftruth.org/us/about/banner-authors/c-h-spurgeon/

Godsvertroue

Oor hierdie Godsvertroue verduidelik die geliefde prediker van die Boere-magte, Vader Kestell: “Dié Godsvertroue staan vas, …[dit gee] die versekerdheid dat alles uit God is, deur Hom en tot Hom. Hy spreek dit uit in geloofstaal: God is ‘n toevlug en sterkte… Daarom sal ons nie vrees nie, al skud die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Sy oor hoor die stem uit die ewigheid: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie[4].

Vader Kestell https://weet.co.za/geskiedenis/j-d-kestell/

President Kruger het terwyl hy ʼn banneling in Europa was, na hy die tyding van die verlies van die Transvaal se onafhanklikheid in 1902 ontvang het, gesê: “Ek is oortuig dat God Sy mense nie sal verlaat nie, al lyk dit so. Daarom onderwerp ek my aan Gods wil. Hy is die Heer, Hy het al die harte in Sy hande en bestuur hulle na Sy wil”[5].

President Kruger https://etc.usf.edu/clipart/600/673/kruger_1.htm

 

President Steyn wat weens ernstige siekte die vredesonderhandelings moes verlaat en dit in die hande van die oorblywende afgevaardigdes laat, het soortgelyk by die droewe berig van oorgawe en verlies van onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat geantwoord: “Ek berus in die wil van God. Vrede het gekom. Dit was die wil van God. Dit was ek wat in die pad van vrede gestaan het. Op Sy wyse het Hy my uit die weg geneem”[6].

President Steyn https://afrikanergeskiedenis.co.za/mt-steyn-1857-1916/

Ark van roeping

Burroughs nooi ons uit: “Daar is ʼn ark waarin u mag gaan, en geen mens in die wêreld mag so gemaklik, vrolik en tevrede lewens lei as die heiliges van God nie.” Wat is hierdie ark in ʼn onstuimige wêreld waarin Kruger, Steyn en Kestell gevaar het, en waarin u ook vergenoegd kan word?

“Wees seker van u roeping tot elke bedrywigheid waarmee u uself besighou. Al is dit die minste saak, wees seker van u roeping daartoe; dan, wat u ook al teëkom, kan u hart hiermee stilgemaak word: Ek weet ek is waar God my wil hê. Niks in die wêreld sal die hart so stilmaak soos dit nie: wanneer enige kruis op my weg kom, weet ek dat ek is waar God my wil hê, in my plek en roeping; Ek is besig met die werk wat God vir my gestel het.”[7]

 

 

[i] Waar aanhalings nie oorspronklik in Afrikaans geskryf is nie, word in die artikel ʼn Afrikaanse vertaling gegee.

[1] Burroughs, J. 1648/1964. The Rare Jewel of Christian Contentment. The Banner of Truth Trust. Edinburgh.

[2] Purves, J. 1957/2003. Richard Cameron: The Lion of the Covenant. Fair Sunshine, Character Studies of the Scottish Covenanters. The Banner of Truth Trust. Edinburgh.

[3] Spurgeon, C.H. 1865/1868/2018. August 5th, Morning. Morning and Evening. Barbour Books. Uhrichsville, Ohio.

[4] Stoker, H.G. 1952. Calvinisme as wortel van ons volksbestaan. Koers: Bulletin vir Christelike wetenskap, vol. 19, Nr. 4, 20 Februarie 1952. Koers-vereniging. Potchefstroom.

[5] Stoker, H.G. 1952. Calvinisme as wortel van ons volksbestaan. Koers: Bulletin vir Christelike wetenskap, vol. 19, Nr. 4, 20 Februarie 1952. Koers-vereniging. Potchefstroom.

[6] De Villiers Esterhuysen, A.M. 1953. Corneels Kanniedood. Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg.

[7] Burroughs, J. 1648/1964. The Rare Jewel of Christian Contentment. The Banner of Truth Trust. Edinburgh.

Deur Josef du Toit

 

Deel die bladsy: