Van

Die son gaan onder in die weste, agter 

Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;

Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,

Met elke wolk half wit soos sneeu daarbo;

En saggies oor die veld hier val die skemer.[1]

tot

Ek het gedink dat dit sou reën
Toe word ek stil en wag alleen
Tot jy kom klop het
Aan my deur [2]

Roy Macnab, professor in Nederlands en Literatuur verbonde aan die Universiteit van Londen, skryf in 1957 dat die hoogste vorm van kuns in ‘n taal, digkuns is.[3] Die vraag in hoë akademiese kringe wêreldwyd was of ‘n jong taal soos Afrikaans werklik oor die kapasiteit beskik om saam met ander ouer tale die podium van digkuns te kan betree. Hy beantwoord die vraag deur te verwys na C. Louis Leipoldt se bekende gedig, “Oom Gert vertel”. Macnab maak daarna die stelling dat hy, wat ‘n groot liefde vir Nederlands het, trots is op Afrikaans en dat die jong boom, Afrikaans, pragtig in bot staan.[4] Afrikaans bly steeds ná 66 jaar die taal wat miljoene mense gebruik om hul diepste emosies op papier vas te vang. Duisende van die gedigte word getoonset om vir die Afrikaanse, asook buitelandse luisteraar, ure se luistergenot te verskaf. Die Afrikaanse kunstemark bars uit sy nate.

Die Afrikaanse student het die geleentheid om sy of haar stempel op die taal af te druk en aan een van die jongste, maar ook een van die sterkste, tale ter wêreld te help bou. Om die stelling te maak dat Afrikaans ‘n dooie taal is, is om die minste te sê, ‘n leuen. Afrikaans is die derde mees gesproke taal in Afrika.[5] Meer as 2 400 skole in Suid-Afrika gebruik Afrikaans as taal van onderrig en leer.

Skriftelike kommunikasie bly steeds een van die belangrikste kommunikasiemiddele, of dit nou privaat, of in die korporatiewe wêreld gebruik word. Om goed vaardig in Afrikaans te wees, sal jou verseker in die toekoms dien: as ‘n stuk bougereedskap, of as wapen. Goeie taalvaardigheid is ‘n ongeskrewe vereiste in die meeste beroepe, maar kan as ononderhandelbaar in die onderwys, teologie, sielkunde en die regspraktyk beskou word. Om tekste te kan ontleed en te verstaan, is ‘n vaardigheid wat enige akademikus bo aan sy lys sal plaas. Indien hierdie vaardigheid in die student se moedertaal bemeester word, kan dit op enige ander taal van toepassing gemaak word.

Verskuil in die prosa en poësie van die tyd word die geskiedkundige verhale van Suid-Afrika vanuit verskillende perspektiewe vertel. Die sielkunde van individue en die sosiologie van subgroepe binne ‘n kultuur, asook die kultuur in geheel, word onder die vergrootglas geplaas. Om hierdie brokkies goud uit die tekste te ontgin, is ‘n waardevolle proses wat aan die student ‘n breër algemene begrip verskaf. Hierdie uitgebreide denkwyse en redenasievermoë kom handig te pas in die daaglikse warboel van take wat ‘n mens moet verrig en vraagstukke wat beantwoord moet word.

Waarom Afrikaans studeer? Indien die uiters kort beskrywing van net drie van die vele fasette jou nie oortuig het nie, kou aan die volgende stelling: Doen dit uit liefde vir jou taal. Ondersoek die juweel. Raak een met die karakters. Beleef die emosies van die digter en bou die wêreld vanuit die skrywer se oë!

[1] Uit: C. Louis Leipoldt se “Aan almal wat voorgegaan het”, Versamelde Gedigte.
[2] Uit: Karen zoid se “Engel”.
[3] MACNAB, R. (1957). THE EMERGENCE OF AFRIKAANS AS A LITERARY LANGUAGE. Journal of the Royal Society of Arts, 105(5000), 372-384. http://www.jstor.org/stable/41366043. 372.
[4] MACNAB, R. (1957). THE EMERGENCE OF AFRIKAANS AS A LITERARY LANGUAGE. Journal of the Royal Society of Arts, 105(5000), 372-384. http://www.jstor.org/stable/41366043. 373.
[5] “5 facts about Afrikaans, the world’s youngest official language”. https://blog.wolfestone.co.uk/5-facts-about-afrikaans-the-worlds-youngest-official-language.

Deur Mev. A. Pieterse

Deel die bladsy: