Navorsing kan gedefinieer word as ‘n ondersoek oor ‘n onderwerp of idee om nuwe inligting te ontdek.[1] Merriam-Webster[2] definieer navorsing soos volg: ‘n Ondersoek of eksperimentering wat gemik is op die ontdekking en interpretasie van feite; die hersiening van aanvaarde teorieë in die lig van nuwe feite of praktiese toepassing van sulke nuwe of hersiene teorieë; die insameling van inligting oor ‘n bepaalde onderwerp; die noukeurige of ywerige soektog van onderwerpe. Navorsing kan dus kortliks saamgevat word as ‘n ondersoek oor ‘n bepaalde onderwerp waar daar spesifieke inligting ingesamel word om nuwe inligting te ontdek.

Navorsing as veld hou verskillende voordele in:

  1. Vir studente

Die eerste belangrike doel is om dieptenavorsing oor ‘n onderwerp te inisieer om by die kern van die inhoud uit te kom, wat ‘n bydrae kan lewer en vir ander mense nuttig kan wees. Reddy[3] sluit hierby aan en sê dat navorsing ‘n onderwerp is om deeglik na te gaan sodat iets nuttig daaruit te voorskyn kan kom. Navorsing dien dus nie net as ‘n hulpmiddel wat studente help om meer inligting in te samel oor ‘n bepaalde onderwerp nie. Dit leer studente ook meer aangaande ‘n wye verskeidenheid van bronne en onderwerpe. Tweedens is navorsing ook die mees betroubare en beste manier om die kompleksiteite van verskeie kwessies of onderwerpe wat ons as mense in die gesig staar, te verstaan en op te tree om dit op te los.[4] Laastens ontsluit navorsing die onbekende. Dit laat jou die wêreld vanuit verskillende perspektiewe verken en bevorder ‘n dieper begrip van onderwerpe en inligting.[5]

  1. Vir akademiese sukses

Navorsing kan om verskeie redes bydra tot akademiese sukses. Eerstens brei navorsing kennis oor verskeie onderwerpe en inligting uit. Wanneer betroubare bronne gebruik word, verskaf dit die nuutste inligting oor die onderskeie velde. Tweedens is navorsing van waarde wanneer verdere studie oorweeg word. Dit help om die spesialiteitsonderwerp beter te omskryf en spesifiek te identifiseer; dit verbeter kritiese en kreatiewe denke; daar is ‘n bekendstelling aan nuwe idees en temas in ‘n studieveld en dit bou juis geloofwaardigheid in die betrokke studieveld. Derdens verbeter navorsing die vermoë om ‘n onderwerp te identifiseer en om deeglik daaroor na te lees. Dit help dus met probleemoplossing en analitiese vaardighede word deur praktiese leer verbeter. Laastens stimuleer navorsing nuuskierigheid.

[1] M. Girardin, What Is Research? Types and Methods (2023), s.v. “research,” toegang Augustus 31, 2023, https://www.theforage.com/blog/skills/what-is-research.

[2] Merriam-Webster (2023), s.v. “research,” toegang Augustus 31, 2023, https://www.merriam-webster.com/dictionary/research.

[3] C. Reddy, Why Research is Important for Students, Humans, Education (2016), toegang Augustus 31, 2023, https://content.wisestep.com/research-important-students-humans-education/.

[4] C. Reddy, Why Research is Important for Students, Humans, Education.

[5] E. Soken-Huberty, 10 Reasons Why Research is Important (2023), toegang Augustus 31, 2023, https://openeducationonline.com/magazine/10-reasons-why-research-is-important/.

Deur Mev. Suné Bester

Deel die bladsy: