vivomasks.com/pages/venice-carnival-guide
vivomasks.com/pages/venice-carnival-guide

 

If all the year were playing holidays,
To sport would be as tedious as to work;
But when they seldom come, they wished-for come,
And nothing pleaseth but rare accidents[1].

 

Selfs die leser wat nie ʼn woord van Shakespeare verstaan nie sal die algemene punt van hierdie uittreksel begryp: as slegs vakansie bestaan het, sou mens dit nie meer as vakansie waardeer het nie. Die meeste van ons sal hierin een of ander variant van goedbedoelde ouerlike advies herken, soos byvoorbeeld ‘as mens altyd slegs doen wat lekker is, is lekker ook nie meer lekker nie’. Maar as lekkerte slegs af en toe verskyn, kan ʼn mens dit des te meer waardeer en geniet.

 

Dit bring ons by die pas afgelope Wêreldbeker en die vakansiedag wat ter ere van die rugbyoorwinning ingestel is. Voor die Wêreldbeker nog begin het, is die versugting al wyd uitgespreek dat ons tog net mag wen. Natuurlik wil elke sportondersteuner hê sy of haar span moet wen (al is dit net met een punt, drie wedstryde in ʼn ry). Tensy daar ernstige geldelike betrokkenheid is, gaan niemand op ʼn sportveld met die oog om te verloor nie. Maar in 2023 was daar meer op die spel. Kommentators van die Vrye Weekblad tot by ʼn bekende oudregter het die Wêreldbeker in amper messiaanse terme beskryf as die gebeurtenis wat ‘almal weer bymekaar sal bring’. Vergelykings met die Wêreldbeker van 1995 en Nelson Mandela en Francois Pienaar  se onvergeetlike simboliese moment is wyd en syd getref. En dit is te verstane: gegewe die probleme van 2023 kan almal van ons werklik doen met ʼn bietjie goeie nuus. En gelukkig het ons toe ook gewen. Voordat ons egter by die vakansiedag kom wat as die kersie op die oorwinningskoek beskou kan word, kan dit dalk nie kwaad doen om die vraag te vra of ons nie dalk te veel verwag van Suid-Afrika se gunstelingsportsoort nie.

 

Mikhail Bakhtin se interessante gebruik van die karnaval kan ons dalk hier help. Hy gebruik dit hoofsaaklik in sy letterkundige besprekings. Die karnaval (Eng. carnival) is natuurlik iets soos ʼn fees, maar nie net enige soort fees nie. Die karnavaleske is die somtotaal van feestelikheid, simboliek en rituele wat die gewone stand van sake uitdaag, nie om dit soos met die rewolusie heeltemal omver te gooi nie, maar om vir almal ʼn bietjie ‘af’ te gee, nie net van hulle verpligtinge nie, maar van die normale orde van dinge self. Bakhtin identifiseer vier basiese kenmerke van ʼn outentieke karnavaleske gebeurtenis:

  • Die verbreking van die formele: mense verbreek sosiale reëls en hiërargieë, druk hulself sonder voorbehoud uit en mense wat andersins glad nie iets met mekaar te doen het nie, kom skielik in kontak met mekaar;
  • Eksentrisiteit: op spesiale feesdae kan mense vrye teuels aan hulle verbeelding gee en hulleself vrylik uitdruk: waardigheid is tydelik vergete en sosiale optrede wat andersins nie geduld word nie, word nou toegelaat. In Middeleeuse Europa het almal dan die geleentheid gekry om die voorregte te geniet wat gewoonlik net aan narre en harlekyne gegun is.
  • Vereniging van teenoorgesteldes: op tradisionele volksfeeste het dit wat as opposisie gesien is, tydelik bymekaargekom: goeie en die kwade, hoog en laag, waardig en onwaardig, die tydelike en die ewige. Vandag se Halloween het sy oorsprong in Europese feeste waaruit die angel tydelik uit die dood en sterflikheid gehaal is.
  • Profane: Terwyl die res van die jaar aan formele kerklike norme onderworpe is, het tradisionele Europa ook feesdae gehad waar die mens ook die tydelike en aardse gevier het, en die adelstand herinner is dat hulle ‘ook maar net mens is’. Feeste is dikwels gehou aan die einde van ʼn oestydperk of jagseisoen. Op sulke feesdae is daar baie geëet en gedans en vroeë vorme van vandag se sportsoorte is beoefen.

 

Kommentators wat ʼn enorme politieke verlossingsnarratief aan rugby koppel, mis eintlik die punt van sport of spel as sulks. Dit is so dat die vernaamste sportsoorte sy wortels in oorlog het: dit gaan ook oor konflik – en dikwels vloei die bloed ook op die sportveld. In een 16de-eeuse wedstryd van die onderontwikkelde voorloper tot die spel wat ons vandag ken as rugby (populêr tydens die bewind van Hendrik VIII) is vyf spelers en twee toeskouers dood. Sport is eintlik ʼn minder ernstige nabootsing van militêre konflik. Dit is veral duidelik in rugby: twee opponerende ‘leërs’ tree in konflik oor ʼn gemeenskaplike doel: om die bal in die hande te kry en punte teenoor mekaar aan te teken. Maar die sleutelbegrip hier is minder ernstig.

 

Sport – net soos advertensie van ʼn bekende sjokoladesoort lui – verkry juis sy waarde omdat dit (in swak Afrikaans gestel) mense ʼn ‘breek’ gee van die gewone, die prosaïese, die onplesierige en dit wat verplig is. Dit is prettig. As jy rugby kyk, eet jy tog nie ʼn gebalanseerde maaltyd wat deur ʼn dieetkundige voorgeskryf is nie. Dit is dan nou juis die kans om aan biltong en aartappelskyfies weg te lê! Sport (en spel as sulks) is juis die Ander van dit wat ‘ernstig’ is. In ons moderne wêreld, waar lyne tussen die meeste tradisionele lewenskategorieë begin vervaag, is sport een van die min kulturele fenomene wat nog iets van die vroeë feestelikheid vasvang. Dit is juis wat dit waardevol maak. Sport is nie politiek nie en behoort dit ook nie te wees nie.

 

Daar is ʼn lang ongelukkige geskiedenis om sport as ʼn wapen aan te wend om diegene wat nie ‘reg’ optree nie te ‘straf’. Niemand stry daaroor dat dit dikwels uit edele motiewe spruit nie. Maar wat dit so ʼn ongelukkige strategie maak is dat dit deel vorm van die mateloosheid van die moderne wêreld. Waar vorige eeue ʼn duidelike onderskeid getref het tussen ernstige politiek en oorlog, is daardie onderskeid in laat moderniteit nie meer so duidelik nie. Dit beteken dat alles nou gepolitiseer word, wat weer  beteken dat dit nie meer moontlik is om aan die politieke te ontsnap nie. En waar alles polities word, is niks meer polities nie: dit beteken ook dat die politiek self sy rol as ernstige singewende domein verloor. Dit is op sigself ʼn gesprek werd, maar vir nou sal slegs die stelling gemaak word dat om van rugby te verwag om ʼn gebroke land te ‘red’ heeltemal te veel van die spel verwag en ook die pret van egte spel bederf.

 

Ten beste kan ʼn mens van rugby en vakansiedae verwag om ons tydelik te laat vergeet van die harde werklikhede wat Suid-Afrikaners elke dag in die gesig staar. Om te  verwag dat rugby ‘ons’ moet saamsnoer soos dit in 1995 gedoen het, is nie net om die aard van sport te ontken en te bederf nie, maar ook om vas te val in ʼn vroom moralistiese (nie morele) diskoers wat voorgee dat daar eenvoudige antwoorde op alles is. Alles sal regkom as ons almal net gaaf is en vir die Bokke skree! Daar is ʼn slegte gewoonte in die Suid-Afrikaanse openbare gesprek om in terme van uiterste boosheid en uiterste goedheid te praat. Meer as een denker het reeds daarop gewys dat die heersende party voor 1994 en vir lank daarna amper met die ontsag behandel is wat gewoonlik net vir heiliges beskore is. ʼn Dekade na die dood van Nelson Mandela en te midde van ʼn spiraal van verval en ongeërgdheid is dit baie moeilik om met enige geloofwaardigheid in terme van uiters goeie en uiters bose rolspelers te praat. Tog bly dit ʼn opperste taboe om aan enige ‘bevoorregte’ die krediet of geloofwaardigheid te gee wat ʼn egte gesprek sal moontlik maak. Dit is mos veel makliker om op wonderwerke te beroep, of dieselfde vroom moralisme aan sportondersteuning te koppel. Bewys dat jy nou ʼn ‘goeie’ Suid-Afrikaner is deur die Bokke te ondersteun! Mooi so, ons het dit gedoen, en nou word ons soos soet kindertjies beloon met ʼn vakansiedag. Maar teen hierdie tyd is dit vir almal duidelik dat die Wêreldbeker slegs ʼn tydelike afleiding was. En dit is ook goed so. Dit is heeltemal onredelik om te verwag dat ʼn sportoorwinning ons werklike probleme sal kan toepleister. Die doel van sport is nie, soos desperate kommentators ons probeer wysmaak, dat daar ʼn ‘ware’ Suid-Afrika skuil agter probleme wat bloot die gevolg van ‘vooroordeel’ is nie. By verre die meeste Suid-Afrikaners van alle rasgroepe is goed bekend met hierdie Suid-Afrika. Hulle haat niemand nie en wil ook nie sedeprekies hoor nie. Hulle wil bloot in ʼn land woon waar dinge werk en hulle nie vir hulle lewens hoef te vrees nie. En waar hulle rugby bloot kan geniet en die Springbokke kan ondersteun omdat hulle wil.

Artikel deur dr. Louise Mabille geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-12-07. Dr. Mabille doseer Politiek en Ekonomie by die Afrikaanse Protestante Akademie. Sy is een van die outeurs van ʼn onlangse boek Coming to Faith through Dawkins (redakteurs Alexander en McGrath) wat 12 opstelle saambind van prominente akademici met ʼn verbysterende gemeenskaplike eienskap: Richard Dawkins en sy mede-Nuwe Ateïste was instrumenteel in hulle bekering tot die Christendom. Sy het doktorsgrade in beide Filosofie (Universiteit Pretoria) en Engelse Letterkunde (Universiteit Hull). Dr Mabille is toegewy aan die soeke vir Waarheid, en glo dat uiteindelik Waarheid slegs in Jesus Christus gevind kan word.
Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

[1] Die aanhaling kom uit Henry IV, Deel I, (I.ii.173–195). Die spreker is Prins Hal, wat aantoon dat hy die wysheid het om eendag suksesvol as Henry V te kan regeer. Hy deel die doopnaam Henry met Prins Harry, wat net soos bogenoemde kommentators blykbaar nie oor die kennis beskik dat daar ‘n tyd en plek vir alles is nie.

 

 

Deel die bladsy: