Die Suid-Afrikaanse landskap is op ongekende wyse aan die verander. En daarmee word nie net die fisiese landskap nie, maar ook die sosiale, teologiese, opvoedkundige en etiese landskap bedoel. Die fisiese erodering van die landskap deur verwaarlosing (bv. slaggate), besoedeling, oorbenutting, en dergelike meer vind sy spieëlbeeld in die erodering van die geestelike landskap. Dit het gemeenplaas geword om van sake soos die geestelike verwildering, morele verval, teologiese vrysinnigheid en etiese normloosheid te praat. Ons leef inderdaad in ‘n koerslose tyd.
In só ‘n tyd is die AP kerkverband geroep om ware en suiwer kerk van Jesus Christus te wees. Om hierdie roeping te vervul, vra ‘n verankering in die ewige Woord van die lewende God. Dit is ons enigste kompas in ons huidige stormagtige tyd. Hierdie kompas moet egter goed bestudeer word, anders kan ‘n foutiewe lesing ons op ‘n dwaalspoor stuur. Die geskiedenis het ons immers geleer dat wanneer teologiese opleiding dwaal, ‘n kerkverband dwaal. Daarom is ‘n grondige teologiese opleiding van lewensbelang. ‘n Mens kan selfs sê dit is ‘n saak van lewe en dood – geestelike lewe en dood.
‘n Grondige teologiese opleiding wat rigtinggewend vir die toekoms moet wees, moet sy oë eerstens na die verlede wend. ‘n Deeglike bestudering van die klassieke katolieke (of algemene) teologie, gepaard met ‘n noukeurige navorsing oor die klassieke gereformeerde teologie, is fondamentleggend. Anders gestel: Sentraal in ons teologiese studie moet die Bybel as die geïnspireerde, onfeilbare, gesagvolle, noodsaaklike en genoegsame openbaring van God staan. Die teologiese besinning oor die Woord (m.a.w. die interpretasie en toepassing daarvan) deur die vroeë kerk, die Bybelgetroue teoloë van die Middeleeue en die gereformeerde vaders, moet vir ons koersgewend wees. Die AP kerke staan immers onbeskaamd in ‘n bepaalde tradisie – die klassieke gereformeerde tradisie. Wie hierdie tradisie as vertrekpunt neem en met die toepassing daarvan in ons huidige tydsgewrig worstel, sal nie soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring (nie); maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles … opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus (Efés. 4:14-15). So word die AP kerklidmate dan koersvaste mense in ‘n koerslose tyd.
In die lig van bogenoemde sal u die visie van die teologiese fakulteit aan die AP Akademie verstaan, nl. om uitnemende onderrig op klassiek gereformeerde grondslag te bied ten einde Godvresende manne vir die bediening voor te berei. Die AP Akademie is deeglik bewus daarvan dat verkeerde brandstof (dwaalleer) die enjin (die kerk) sal laat stik. En wie stik, sterf.